Johannesburg Central
Nuutste
Kos & Wyn

Hoekom rooibos die mees onderskatte bestanddeel in jou kombuis is

Getrek, gemaal of as stroop — ons nasionale tee maak stilletjies 'n hele nuwe geslag nageregte oop.

Anika van Wyk··4 min se leestyd
Koppie rooibostee langs vars gebak

Rooibos was vir dekades die beleefde middagtee, die een wat jy uithaal vir 'n tannie wat nie koffie drink nie. In die hande van 'n nuwe geslag bakkers kry die ding eindelik die respek wat hom toekom.

Trek dit sterk, kook dit af tot stroop, en jy het 'n heuningagtige, amper karamelnoot wat melktert, malvapoeding en sjokolade-brownies 'n nuwe diepte gee. Maal dit fyn en dit werk amper soos 'n spesery: 'n stil, droë warmte wat pragtig saam met vanielje, lemoenskil en donker sjokolade speel.

Plaaslike patissiers het lankal die toon aangegee. By 'n handjievol bakkerye in Joburg kry jy nou rooibos-shortbread, rooibos-room vir trifle, en 'n roomys met rooibos en gebrande heuning wat soos 'n Karoo-middag op 'n lepel smaak.

Meer in Kos & Wyn